Vrydag 28 Mei 2021 se belangrikste nuus
- Christo Gawie
- May 29, 2021
- 2 min read
# Die minister van Gesondheid sê in ‘n verklaring dat nog vierduisend-576 coronavirus-gevalle in die jongste verslagperiode aangemeld is, wat die groot totaal op eenmiljoen 645-duisend 551 te staan bring. Die dodetal het in dieselfde tydperk met 123 tot 56-duisend 293 gestyg. Daarvan het 38 sterftes in die Vrystaat voorgekom, 30 in die Noord-Kaap en 23 in Gauteng. Die herstelkoers is 93-komma-agt persent. Die land het tans 46-duisend 738 aktiewe gevalle.
# Die Franse president, Emmanuel Macron, sê hy sal hom beywer vir die opheffing van intellektuele regte op Covid-19-produkte tydens die G7-vergadering aanstaande maand. Macron het by die Uniegebou gepraat tydens ‘n staatsbesoek. Hy sê die oordrag van tegnologie en kennis is van kritieke belang in die bekamping van Covid-19. Suid-Afrika en Indië het ‘n voorstel ingedien by die Wêreldhandelsorganisasie vir die tydelike opskorting van intellektuele regte op entstowwe tydens die pandemie.
# President Macron het ook gesê sy land is gereed om Mosambiek te help om terrorisme en insypelaars te beveg. Honderde mense is sedert 2017 in Mosambiek se noordelike Cabo Delgado-provinsie dood en meer as 700-duisend ontwortel in gevegte met militante insypelaars wat met Isis verbind word. Macron sê sy regering sal wag vir Mosambiek voordat hy enige ingryping sal oorweeg.
# Die voormalige finansiële hoof van Transnet, Anoj Singh, het aan die staatskapingskommissie gesê verkrygingsprosedures en -beleid is gevolg in die aankoop van duisend-64 lokomotiewe in 2014. Transnet het die kontrak aan vier verskaffers toegeken. Singh sê hy was in ‘n beperkte mate betrokke by die verkryging van die lokomotiewe. Hy sê hy het geglo alles is op ‘n eerlike wyse gedoen en het nie geweet dat die Gupta-vennoot, Salim Essa, ‘n kommissie van 20 persent uit die ooreenkoms ontvang het nie.
# Die ANC se voorsitter in die Noord-Kaap, Zamani Saul, het lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee gekritiseer wat nalaat om hul eie besluite ernstig op te neem en hul take met integriteit uit te voer. Lede van die NUK het onlangs opnames van vergaderings aan die media en die publiek uitgelek, wat Saul beskryf as ideologiese bankrotskap. Hy het tydens die provinsie se negende verkiesingskonferensie in Namakwa gesê die ANC se NUK het die verantwoordelikheid om leierskap aan al die strukture van die ANC en die samelewing te verskaf.
# En...Microsoft sê hy het in die afgelope week Russiese kuberaanvalle opgemerk wat 150 regeringsagentskappe, hoofsaaklik in Amerika, teiken. Die maatskappy sê minstens ‘n kwart van die teikens is betrokke by die bevordering van menseregte. Microsoft sê dit is dieselfde groep wat betrokke is by die sogenaamde Solo Winds-veldtog. Amerika glo Rusland se intelligensieagentskap, SVR, is vir die kuberaanvalle verantwoordelik en het verlede maand sanksies teen die bedrywighede ingestel. Die hoof van SVR het enige betrokkenheid ontken, maar dit is duidelik uit Microsoft se jongste onthullings dat Washington se reaksie nie die Russiese kuberkrakers afgeskrik het nie.
Comments