Ramaphosa Spreek SA Toe Om 8nm
- Christo Gawie
- Jun 15, 2021
- 1 min read
GEORGE |DINS 15 JUNIE 2021 | 18H30
#PresidentCyrilRamaphosa het ‘n moeilike taak op hande wanneer hy vanaand agtuur die nasie toespreek oor die coronavirus-pandemie te midde van stygende infeksiesyfers. Die president se toespraak sal regstreeks op alle SAUK-platforms, waaronder radio, televisie en aanlyn, uitgesaai word. Ramaphosa sal die belangrikheid daarvan om lewens te spaar met die ekonomiese gevolge van strenger inperkingsmaatreëls moet opweeg.
#DieSuidAfrikaanseMedieseVereniging, Sama, het intussen ‘n beroep gedoen vir strenger inperkingsmaatreëls as ‘n dringende poging om die derde vlaag van die coronavirus te bekamp. In die afgelope sewe dae het die land meer as 52-duisend nuwe infeksies aangeteken. Die voorsitter van Sama, Angelique Coetzee, sê ‘n voortgesette toename in nuwe infeksies sal ‘n bykomende las plaas op gesondheidsgeriewe wat reeds oorweldig is. Coetzee sê pasiënte word weggewys en gevra om na ander gesondheidsentrums te gaan, omdat daar nie genoeg beddens is nie. Sy sê dit het die land minder as twee weke geneem om op dieselfde punt te kom waar ons tydens Kersfees was.
#DieNasionaleDrankhandelaarsvereniging het vroeër die regering gevra om met die sakesektor en die burgerlike samelewing saam te werk om die nakoming van Covid-19-regulasies te verbeter ten einde nog ‘n verbod of beperking op drankverkope te verhoed. Die vereniging verwag nog inperkings te midde van ‘n sterk opswaai in coronavirus-gevalle in veral Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Die vereniging se sameroeper, Lucky Ntimane, sê die drankbedryf het die inisiatief geneem om seker te maak dat Covid-19 veiligheidsprotokolle behoorlik nagekom word in plaas daarvan om dit bloot aan die regering oor te laat. Hy sê die model kan ook in ander sektore werk.
Comments