Jongste Nuus - Maandag 4 Oktober 2021 23h50
- Christo Gawie
- Oct 4, 2021
- 1 min read
Maandag 4 Okt 21 | 23h50
# Die Vryheidsfront Plus het die insluiting van die Wes-Kaapse Regterpresident, John Hlophe, en die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, in die benoemingslys vir die pos van hoofregter gekritiseer. Die Presidensie het ‘n lys van agt kandidate bekend gemaak vir die pos wat op 11 Oktober vakant raak. Die ander ses is Regter Mbuyiseli Madlanga, Regter Mandisa Maya, Doktor Wallace Mgoqi, Regterpresident Dunstan Mlambo, Advokaat Alan Nelson en Adjunk-hoofregter Raymond Zondo.
Die hoofsweep van die ADCP, Steve Swart, sê die benoemings het enkele verrassings opgelewer wat besware sal uitlok. Swart sê die lys bevat ook sterk kandidate met gepaste kwalifikasies. Die publiek kan tot 15 Oktober beswaar aanteken teen die benoemings.
# Die prys van 93-oktaan loodvrye petrol daal môreaand om middernag met vier sent per liter en 95-oktaan met een sent per liter. Die prys van beide grade diesel styg egter met 22 sent per liter, en dié van paraffien met 32 sent per liter. Die departement van Minerale Hulpbronne en Energie sê verbruikers sal sewe sent meer per kilogram gas betaal. Die stygings in pryse word hoofsaaklik aan hoër oliepryse toegeskryf.
# Die toetspositiwiteitskoers het in die jongste verslagperiode verder tot twee-komma-ses persent gedaal, wat ‘n aanduiding is dat die verspreiding van die coronavirus onder beheer is. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes sê nog 39 sterftes en 429 nuwe Covid-19 gevalle is aangemeld. Die totale dodetal staan nou op 87-duisend 819, terwyl die getal coronavirus-gevalle sedert die uitbreek van die pandemie tot twee miljoen 906-duisend 851 styg. Die land het 37-duisend 467 aktiewe gevalle.
*** Einde mbv sabc nuus ***

Comments