top of page
Search

Nuus om 8nm,Sat 29 Mei 2021

  • Writer: Christo Gawie
    Christo Gawie
  • May 29, 2021
  • 2 min read

SAT 29 MEI 2021 | 20H28 - CHRISTO GAWIE


Dis skuins na 8nm ,Saterdag 29 Mei 2021 - Ek wys nou die dag se belangrikste nuusgebeure mbv sabc nuus.


# Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, het die Noord-Kaapse verkiesingskonferensie virtueel toegespreek en sê die party word gekenmerk deur swak dissipline, minagting van sy norme en waardes. Ramaphosa sê die party word deur vele uitdagings in die gesig gestaar, waaronder faksievorming, korrupsie, gierigheid en binnegevegte. Die top vyf van die provinsiale uitvoerende gesag onder leiding van Zamani Saul is gisteraand onbestrede herverkies. Die konferensie vind in Springbok plaas onder die tema ‘vernuwing, eenheid en heropbou’ in voorbereiding van die plaaslike regeringsverkiesings in Oktober. Ramaphosa het ‘n beroep op die leierskap gedoen om die party in die provinsie te verenig.


# Die departement van samewerkende regering, menselike nedersetting en tradisionele sake in Noordwes sê hy het 40 miljoen rand van plaaslike mynmaatskappye ontvang om watertekorte in verskeie dorpies, insluitend Maumong naby Rustenburg, op te los. Inwoners sê hulle sukkel al vir meer as ‘n dekade om toegang tot skoon drinkwater te verkry. Hulle sê opgaardamme wat tien jaar gelede in die gebied opgerig is, verskaf steeds nie water nie.


# Vyf verdagtes tussen die ouderdomme van 23 en 40 het in die Pietermaritzburgse landdroshof verskyn nadat hulle klante van ‘n taverna by Khokhwane by Taylors Halt buite Pietermaritzburg beroof het. Die gewapende groep verdagtes het die taverna binnegegaan en ‘n skoot afgevuur. Niemand is beseer nie. Hulle het daarna die klante van kontant, selfone en drank beroof voordat hulle in ‘n motor weggejaag het. ‘n Saak van sakeroof is by die Taylors Halt-polisiestasie geopen. Die polisie het beslaggelê op twee onwettige wapens en ammunisie, en ook op die voertuig wat in die rooftog gebruik is. Die verdagtes bly in aanhouding.


# Lede van die munisipale werkersvakbond, Samwu, het ‘n griefskrif aan die Kaapstadse metro by die burgersentrum oorhandig teen voortgesette dissiplinêre prosesse. Samwu se adjunksekretaris in die Kaapstadse metro, Bridgette Nkomana, sê die bestuur gaan voort om vakbond-vloerleiers te viktimiseer. Sy sê hulle voel of hulle deur die werkgewer aangeval en voortdurend aangekla word. Nkomana sê dit is kommerwekkend omdat hulle die werk vrywillig doen.


# Die Kaapstadse metro ontken die aantygings dat hulle personeel onbillik op rassegronde behandel. Die metro se woordvoerder, Luthando Tyhalibongo sê alle personeellede word billik hanteer. Tyhalibongo het ‘n voorval van ongehoorsaamheid in April 2020 bevestig toe ‘n senior werknemer nagelaat het om dissiplinêre stappe te neem teen ‘n personeellid. Hy sê die senior lid is dieselfde individu wat ‘n klagte gelê het by Samwu. Tyhalibongo sê die individu is tans onderhewig aan ‘n tugververhoor omdat die persoon by verskeie geleenthede geweier het om bestuursopdragte uit te voer.


SPORTNUUS..


RUGBY: Die Reds het die Chiefs in ‘n opwindende wedstryd met 40-34 in Townswille geklop om Australië se eerste wedstryd in die Superrugby Trans-Tasman-reeks te wen. Vroeër het die onoorwonne Blues die Brumbies met 38-10 kafgedraf om gelyk te bly met die Hurricanes bo-aan die punteleer. Die Crusaders het met 54-18 oor die Waratahs geseëvier. Gister het die Hurricanes die Force met 43-6 afgeransel. Die Highlanders kom môre teen die Rebels te staan.


Einde van hierdie nuus mbv sabc nuus.


 
 
 

Recent Posts

See All
Wes-Kaapse Covid19 getalle klim

GEORGE | MAN, 14 JUNIE 2021 | 20H08 Die aantal aktiewe gevalle van Covid-19 in die Wes-Kaap het tot agtduisend-37 gestyg. Die provinsie...

 
 
 

Kommentare


Post: Blog2_Post
bottom of page