top of page
Search

Nuus om 7nm | Sat 22 Mei 2021

  • Writer: Christo Gawie
    Christo Gawie
  • May 22, 2021
  • 3 min read

Skuins voor 7nm - Goeie naand .Ons wys jou graag die dag se belangrikste nuusgebeure mbv sabc nuus.


# Nog twee jeugdiges is dood na ‘n voorval van boendoe-geregtigheid vroeër vandeesweek in Zandspruit, noordwes van Johannesburg. Dit bring die dodetal op agt te staan. Een persoon word steeds in die hospitaal behandel. Die Minister van Polisie, Bheki Cele het Zandspruit vandag saam met die Gautengse LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko en die provinsiale polisiekommissaris, Elias Mawela besoek. ‘n Groep van sowat 200 inwoners van die informele nedersetting het na bewering ‘n groep van nege jong mans aangeval en aan die brand gesteek. Die jeugdies is daarvan beskuldig dat hulle mense in die gebied beroof. Cele het onderneem om die gebied weer oor drie weke te besoek om terugvoer aan inwoners te gee.


# President Cyril Ramaphosa het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om by boerdery betrokke te raak om die land se voedselsekerheid te verseker. Hy sê die regering is verbind tot grondhervorming en die herverspreiding van grond aan voorheen benadeelde gemeenskappe. Ramaphosa het vandag die titelaktes van sowat 189 hektaar se grond aan 30 swart boere by Tafelkop in Groblersdal in Limpopo oorhandig. Die grond word op meer as 25-komma-5-miljoen rand gewaardeer. Ramaphosa sê die regering sal aanhou om die boere te steun. Die swart boere boer reeds 25 jaar op dié grond.


# Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille sê die ANC en die EFF is nie gereed vir die plaaslike regeringsverkiesing in Oktober nie, en gebruik daarom die Covid-19 pandemie om die verkiesing te probeer uitstel. Zille het gepraat tydens ‘n virtuele geleentheid om die DA se verkiesingsveldtog van stapel te stuur. Sy sê die pandemie word ook gebruik om ander ondemokratiese gedrag te bevorder. Volgens Zille sluit dit in om mag te sentraliseer deur coronavirusbevelsrade, en so die korrekte parlementêre prosesse te systap.


# Die Oos-Kaapse polisie is op soek na nog drie verdagtes in verband met die moord op drie mense by Bityi. Volgens die polisie het ses mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het verlede week die eienaar van ‘n taverne, sy pa en sy dogter doodgeskiet. Drie verdagtes is gisteraand in Ngcobo en Cala in verband met die moorde in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op ‘n pistool, ammunisie en twee motors wat vermoedelik gebruik is om die misdaad te pleeg. ‘n Polisiewoordvoerder, Thembinkosi Kinana sê die voertuie word ook verbind met ander moorde in die Oos-Kaap. Die verdagtes verskyn Maandag in die landdroshof in Bityi.


# Die polisie in Mpumalanga het ‘n beroep op motoriste gedoen om waaksaam te wees wanneer hulle in die nag bestuur, na ‘n toename in voorvalle waar skerp voorvalle op die pad geplaas word. ‘n Polisiewoordvoerder, Leonard Hlathi sê meer as 24 voorvalle is tussen April en Mei vanjaar in die provinsie aangmeld. Rowers gebruik skerp voorvalle om ‘n motor te laat stilhou, voordat die insittendes beroof word. Hlathi sê in meeste gevalle word die motoriste van selfone, skootrekenaars, kontant en klere beroof. Hy sê die voorvalle kom veral op die N4, N12 en R40 rondom Marite in Bosbokrand voor.


# Rugby: Die Lions het hulle eerste oorwinning van die seisoen behaal toe hulle die Bulls in ‘n Reënboogbekerkragmeting op Ellispark in Johannesburg met 34 -33 geklop het. Dit was die eerste kragmeting van die seisoen wat die Bulls verloor het. Vroeër vandag het die Stormers op Kingspark in Durban teen die Sharks gewen. Die eindtelling was 25 – 22.

#Motorsport: Charles Leclerc van die Ferrari-span sal voorlopig môre in die eerste plek wegspring by die Monaco Grand Prix – ten spyte van ‘n botsing vandag. Die 23-jarige van Monaco het die vinnigste tyd in die kwalifiserende ronde aangeteken voordat hy teen die versperrings gebots het. Max Verstappen van Red Bull het tweede gekwalifiseer, maar sal in die eerste plek wegspring indien Leclerc se ratkas vervang moet word. Lewis Hamilton van Mercedes het in die sewende plek gekwalifiseer.


Dis die einde van nuus mbv sabc nuus.

 
 
 

Recent Posts

See All
Wes-Kaapse Covid19 getalle klim

GEORGE | MAN, 14 JUNIE 2021 | 20H08 Die aantal aktiewe gevalle van Covid-19 in die Wes-Kaap het tot agtduisend-37 gestyg. Die provinsie...

 
 
 

Kommentarer


Post: Blog2_Post
bottom of page